Pesto-en-Garnaalbraai

Pesto-en-Garnaalbraai

Die Augustuswinde het nog nie eers begin waai nie en toe is die somer op ons. Die skielike en welverdiende somer wat ons getref het, moes dringend ingelyf en gevier word. So hou ons toe op die voorlaaste Sondag van Augustus, eintlik nog ‘n winter-Sondag, ‘n Pesto-en-Prawnbraai. Of beter in Afrikaans bekend, ‘n Pesto-en-Garnaalbraai. Die braai het vinnig in ‘n lang Sondagmiddagkuier ontaard, wat selfs later ‘n draai in die swembad gemaak het. Ja, glo dit of nie, ons kon selfs swem.

Ons Pesto-en-Garnaalbraai is afgeskop met ‘n calamari en murgpampoentjie voorgereg, voorberei oor die kole. Die eetkamertafel was noukeurig gedek, maar ons het die son en die braaivuur so geniet, ons het die voorgereg so staan-staan van die rooster af geëet. Die hoofgereg was ‘n heerlike mengsel van allerhande speserye, suurlemoensap, sprietuie, garnale en dan natuurlik Pesto Princess se Basil Pesto, bedien op pasta. Om bietjie meer kleur aan die hoofgereg te gee, is een opgesnyde beet by die pasta gevoeg terwyl dit gekook het. Ons hoofgereg het ons op die stoep se vloer gesit en eet, weereens was ons nie lus om die warm somerweer op te gee vir ons deftig, gedekte eetkamertafel nie. Nagereg het bestaan uit suurlemoen sorbet, afgerond met vars basiliekruid. ‘n Perfekte kombinasie. En om hierdie eerste viering van die somer ekstra spesiaal te maak, het ons nagereg in die swembad geniet.

Ons het hierdie heerlike dag gedeel met nog ‘n besonderse huiskok in ons lewens, Hanré Truter. Hanré is ‘n uiters kreatiewe huiskok en dra haar gaste altyd op haar hande. Ons het nog nooit dieselfde dis aan haar tafel geniet nie. Haar vindingrykheid gaan my verstand te bowe.

Hanré is ‘n perfeksionis as dit by kosmaak en onthaal kom, en ek het na ons Pesto-en-Garnaalbraai gewonder of sy teleurgesteld is dat ons nooit haar perfek-gedekte eetkamertafel benut het nie. Hoe dit ook al sy, voorgereg om die braaivuur, hoofgereg op die stoep en nagereg in die swembad, was die perfekte manier om hierdie somer welkom te heet. Ons doop Sondae dan van nou af: Pesto-en-Garnaal-swem-Sondae!

Lank lewe die somer!

Pesto-en-Garnaalbraai

Bestandele

  • 800 gram garnale (hoe groter, hoe beter)
  • 1 koppie wit wyn (Sauvignon Blanc is altyd lekker)
  • 1 handvol gekapte sprietuie
  • 1 handvol gekapte pietersielie
  • 2 opgehoogte el knoffel
  • 2 el pesto (Basil Pesto of Basil & Lemon Pesto)
  • Suurlemoen na smaak (hang af van die tipe wyn wat jy gebruik)
  • Gekapte rissie na smaak
  • 500 ml room
  • Sout en peper na smaak

Metode

  1. Braai die garnale oor ‘n lekker warm vuur tot pienk.
  2. Kook al die ander bestandele, behalwe die room, in ‘n kastrol op die vuur. Net voor al die alkohol uit die sous verdamp het, voeg die room by. Roer die sous voortdurend. Prut verder vir sowat 15 minute.
  3. Bedien die garnale en sous op al-dente gekookte pasta – Linguine of Tagliatelle.
  4. Vir ekstra smaak, voeg Parmesan kaas of makadamia neutmeel by.

 

Genoeg vir 4 honger, klaar-met-die-winter siele.

About: Tharien Hattingh

Prinses Tharien; lewe-dink-en-doen-buite-die-boks.
Speel elke dag heeldag, deur: te skryf, foto’s te neem, onderhoude te voer met innoverende mense en besighede se boeke en belastings opdatum te hou.
Vir verdere pret word soveel as moontlik tyd in die natuur op haar fiets, in haar tekkies en in ‘n tent spandeer of op ‘n vliegtuig na nuwe bestemmings, alles saam met haar beste vriend – haar man.
Prinses Tharien strewe daarna om altyd na haar volle potensiaal te lewe.

Catch up with her on:

http://www.tharienhattingh.co.za
Facebook: Tharien Hattingh
Twitter: @TharienHattingh
LinkedIn: Tharien Hattingh

[jetpack-related-posts]


One thought on “Pesto-en-Garnaalbraai

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *