Pesto en Paprika Broodjies met Eloise

Die pesto is gereed!

Wat ‘n voorreg om ‘n vriendin te hê wat jou met koningskos bederf en jou opnuut die knusheid van winter laat waardeer. Eloise Nolte is so ‘n vriendin vir my. Eloise het my ook voorgestel aan die Pesto Princess en wat ‘n wonderlike smaakervaring het dit vir my oopgemaak. Eloise is ‘n 28 jarige, puik huiskok wat mal is oor onthaal en om haar geliefdes met spesiale disse te bederf.

Met my aanstelling as Afrikaanse blog bydraer vir die Pesto Princess, het ek onmiddelik aan Eloise gedink. Uiteindelik het ek ‘n platform om vir die wêreld van hierdie wonderlike kok te vertel. Ek het dadelik vir Eloise gebel met die nuus en sy het binne ‘n paar minute vir my ‘n hele rits resepte en idees aangestuur. Eloise fokus daarop om kwaliteit en in-seisoen produkte te gebruik en is van mening dat ‘n vet beursie nie gewoonlik die lekkerste kos maak nie. Sy glo dit is kwaliteit en eenvoudige produkte wat die beste smaak. Sy is ook ‘n groot voorstaander van liefde en tyd en sy reken dit is op die ou einde van die dag die belangrikste bestandele tot enige dis.

So was ek en my man die bevoorregte gaste om op ‘n koue wintersaand om Eloise se gesellige tafel te beland, terwyl sy ons met heerlike Pesto en Paprika broodjies bederf. Dit was ‘n gewone weeksaand en ek was verstom oor wat Eloise na ‘n voldag se werk vir ons kon optower. Eloise werk bedags as ‘n bedryfsingenieur en gee so haar linkerbrein petrol, terwyl sy in die aande en oornaweke haar regterbrein oortyd laat werk soos wat sy kook en onthaal en kreatiewe dinge aanvang. Haar balans tussen hierdie twee wêrelde maak van haar ‘n gelukkige en vredevolle mens.

Hierdie Pesto en Paprika broodjies is regtig eenvoudig, dit lyk spoggerig en is ook ‘n lekker saam-doen-ding. Al die prosesse is redelik eenvoudig, so manlief of die kinders kan ‘n handjie bysit. Perfek vir kwaliteit gesinstyd op ‘n koue weeksaand. Ons het natuurlik ‘n goeie glas rooiwyn bygevoeg en gou het die koue van die winter in ‘n goeie verskoning ontaard om nog sulke warm koskuiers te hou.

Probeer dit gerus – jy, en veral jou smaakkliere sal hande klap van vreugde!

Bestanddele: (Genoeg vir 6 mense)

  • 3 Vark filette (ongeveer 900g) (elke filet in 8 blokke gesny en plat gedruk)
  • 1 e paprika
  • 1 t wit peper
  • 6 Knoffel huisies, geskil en baie fyn gekap
  • 150 ml olyfolie
  • 6 e ekstra-roomerige mayonnaise
  • 8 Stukke parma ham
  • 3 e Pesto Princess Rocket Pesto
  • 3 e Pesto Princess Red Pepper Pesto
  • 1 Groot ciabatta of suurdeeg brood (Benodig 16- 18 groot snye)

Metode:

  1. Meng die knoffel, wit peper en paprika in ‘n stamper en vysel. Gooi van die olyfolie by totdat dit ‘n smeerbare pasta word.
  2. Vryf dit op die filette en los vir 30 minute om te marineer.
  3. Braai die filetstukke totdat dit deur gaar is (afhangede van die dikte, omtrent 1 minuut aan ‘n kant).
  4. Rooster die snye brood.
  5. Smeer die mayonnaise op die snye brood.
  6. Sit ‘n stuk parma ham op elke sny
  7. Sny die filette in dun skywe en pak op die brood.
  8. Drup van beide pestos op die filette.
  9. Sit die ander sny brood bo op.
  10. Drup van die olyolie oor die broodjies.
  11. Bedien met vars stamtamaties en eet met die hand.

Hierdie resep is met liefde deur Eloise Nolte ontwikkel.

About: Tharien Hattingh

Prinses Tharien; lewe-dink-en-doen-buite-die-boks.
Speel elke dag heeldag, deur: te skryf, foto’s te neem, onderhoude te voer met innoverende mense en besighede se boeke en belastings opdatum te hou.
Vir verdere pret word soveel as moontlik tyd in die natuur op haar fiets, in haar tekkies en in ‘n tent spandeer of op ‘n vliegtuig na nuwe bestemmings, alles saam met haar beste vriend – haar man.
Prinses Tharien strewe daarna om altyd na haar volle potensiaal te lewe.

Catch up with her on:

http://www.tharienhattingh.co.za
Facebook: Tharien Hattingh
Twitter: @TharienHattingh
LinkedIn: Tharien Hattingh

[jetpack-related-posts]


Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *