Pesto Rolkoek

Gelukkige Seuntjies eet hul pesto rolkoek ;)

Dit is omtrent onmoontlik, nee wag dit is onmoontlik om 2 seuntjies vir 80 minute te laat stil sit tydens ‘n rugbywedstryd. Ek neem hulle glad nie kwalik nie. Ek is al 28 jaar oud en ek kry dit ook nog steeds nie reg om vir 80 minute stil te sit en kyk hoe 30 manne agter ‘n klein, ovaal balletjie aan hardloop nie. Dit is nie dat ek nie die spel verstaan nie, die spel is net so ingewikkeld en gereeld word daar groot woorde en vreemde terme gebruik. Dit is ‘n losgemaal, lynstaan, strafskop, hoog vat, vorentoe aangee, vaste skrum, vaste vyf, vasskop, omgekeerde balbesit, televisieskeidsregters, lynregters, geel kaart, rooi kaart, onkant, obstruksie en wie weet wat nog als. Heeltemal te veel inligting om op ‘n Saterdagmiddag te probeer verwerk.

Maar rugby gaan nie net oor die spel en die 80 minute wat ons voor die televisie spandeer nie. Nee, rugby gaan oor die reël van die rugbykuier die week voor die tyd. Oor die sms’e wat gestuur word en reëlings wat met opwinding en afwagting met vriende en familie vasgemaak word. “Kom kyk Saterdag die rugby by ons. Ons braai sommer ‘n worsie. Bring julle net die slaai en ietsie te drinke.” “Sien ons julle Saterdag vir die rugby? Kom sommer al half 6. Bring ‘n paar koue outjies saam. Onthou die kinders se swemklere.” Of in die jonger generasie se MXit taal: “Rgb Sdag. 6:00. Vlys, branna n coke.”

Rugby gaan oor die bymekaar kom, oor die groet met ‘n druk en ‘n soen. Rugby gaan oor die eetgoed waaraan ons peusel tydens die wedstryd. Rugby gaan oor die braai na die afloop van die wedstryd en die bespreking van die onregverdige of regverdige skeidsregter – hang af wie het gewen. Rugby gaan oor die wyn en die bier wat geniet word. En vir meeste vroue gaan rugby natuurlik oor die 80 minute waarin ons kan opvang en stories uitruil, terwyl die mans vasgenaal voor die televisie sit.

Hierdie spesiale gebeurtenis wat ons die rugby wêreldbeker noem skep ‘n uitsonderlike gees onder alle rugby entoesiaste. Nie net verteenwoordig jy jou land in murg en been tydens die toernooi nie,  jy bou en koester ook jou verhoudinge en spandeer tyd saam met die mense waarvoor jy lief is. Rugby bring mense bymekaar en sorg vir 80 minute van samesyn en bou herinneringe.

Pesto Rolkoek is perfek vir die wêreldbeker. Dit is kleurvol, pret en kindervriendelik. Aangesien meeste van die pesto souse groen is, pas dit goed in by enige Springbokwedstryd. Met die Pesto Rolkoek kon ons dié twee seuntjies ook darem vir ‘n paar minute gefokus op die wedstryd hou.

Geniet daardie spesiale 80 minute!

Jy benodig (vir 2 Pesto Rolkoeke):

  • 1 pakkie sout muffin mengsel
  • 2 x 250ml ongegeurde roomkaas
  • vars basilieblare
  • songedroogde tamaties (in vloeistof)
  • 1 x 130g Pesto Princess se Basil Pesto
  • 1 x 130g Pesto Princess se Red Pesto

Hoe gemaak:

Maak die muffin mengsel aan volgens die instruksie op die pakkie. Voer twee bakplate uit met waspapier. Gooi ‘n dun lagie deeg eweredig in elke bakplaat, ongeveer 5mm. Bak vir 10-15 minute tot gaar en effens bruin. Haal uit die oond en laat effens afkoel. Plaas die gebakte muffin mengsels op ‘n klam vadoek. (Die klam vadoek voorkom dat die deeg  kraak wanneer dit gerol word.)

Vir die Basil Pesto rol:

Smeer roomkaas en dan Basil Pesto eweredig oor die hele oppervlakte van een van die rolkoeke. Snipper vars basilieblare oor. Sny die kante van die deeg af om te voorkom dat die gaar deeg kraak wanneer dit gerol word. Rol die deeg op soos vir ‘n rolkoek. Sny in wielietjies en sit voor met vars basilieblare.

Vir die Red Pesto rol:

Volg die stappe soos hierbo, vervang net die Basil Pesto met die Red Pesto en gebruik die songedroogde tamaties ipv. basilieblare.

Resepontwikkeling: Marieta Kotzé

About: Tharien Hattingh

Prinses Tharien; lewe-dink-en-doen-buite-die-boks.
Speel elke dag heeldag, deur: te skryf, foto’s te neem, onderhoude te voer met innoverende mense en besighede se boeke en belastings opdatum te hou.
Vir verdere pret word soveel as moontlik tyd in die natuur op haar fiets, in haar tekkies en in ‘n tent spandeer of op ‘n vliegtuig na nuwe bestemmings, alles saam met haar beste vriend – haar man.
Prinses Tharien strewe daarna om altyd na haar volle potensiaal te lewe.

Catch up with her on:

http://www.tharienhattingh.co.za
Facebook: Tharien Hattingh
Twitter: @TharienHattingh
LinkedIn: Tharien Hattingh

[jetpack-related-posts]


Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *